Hykie Berg Profiel

Hykie Berg. ‘n Gedugte teenstander wat gesag afdwing; ferm, reguit. As wenner van Survivor SA Maldives 2011 was hy altyd eerlik en getrou aan homself. Sy strategie: Matteus 10:16 “Wees so versigtig soos die slange en so eerlik en opreg soos die duiwe.”

Hy is ‘n gebore en trotse Pretorianer en voltooi sy matriekjaar in 1996. Na ‘n uiterste laagte punt in sy lewe, is hy gehoorsaam aan ‘n roeping en begin hy sy studies as drama student op die Universiteit van Stellenbosch. Vandag gesels hy sonder skaamte oor sy filosofie van die lewe, die lesse wat hy moes leer en die beginsels wat hy vandag nog toepas om sy uitdagings te oorwin en ‘n lewe van betekenis te kan leef.

Sy loopbaan het gesorg vir produksies soos Plek van die Vleisvreters (Mnet 2004 beste opkomende akteur) gevolg deur die sjarmante Darius du Buisson in Egoli tot 2005 (vir dié rol het hy ‘n benoeming vir People Magazine se Crystal Awards gekry). In 2006 het die film Ouma se Slim Kind gevolg wat drie Victoria Film toekennings, ‘n Kanna en ‘n toekenning van die FAK ontvang het. Hy was later ook te siene in One Way, Jozi H, The Res, 7de Laan en Binnelanders waar hy as Dr. Conrad die gehore vermaak het en die ATKV mediaveertjie as Suid Afrika se beste akteur ontvang het in 2010.

Van sy teater produksies oa Madiba Street het die Pansa toekenning ingepalm, daarna het reekse gevolg; Feast of the Uninvited, Getroud met Rugby, Donkerland en Bloedbroers waarvoor hy ‘n Tempo nominasie ontvang het as beste akteur. Hy het vele programme op Kyknet aangebied o.a Om-i-Wereld sowel as Wie Lê Waar.

‘n Hoogtepunt was toe hy in die verhoog produksie Fiela se Kind ingestaan het in die rol van Lukas van Rooyen/Benjamin Komoetie nadat sy vriend Erik Holm in ‘n fratsongeluk verlam is. “Dit was ‘n baie emosionele tog een van die beste teater ervaringe van my lewe.”

Talle rolprente het gevolg onder andere Pretville, Lien se Lankstaan Skoene, Klein Karoo, Mooirivier, Mandela’s Gun, Forsaken (2015) Rowwe Diamante (2015) Dis ek Anna (2015) en Darryl Roodt se Verskietende Ster (2016)

Hy skroom nie om te sê die kern van sy lewe is nie sy werk nie, maar sy soeke na die Waarheid. “Daar is baie belangriker dinge in die lewe as om toneel te speel”.

Hykie se groot liefde en passie Ie in die belangstelling van mense, hoe om hul potensiaal te ontgin en wat dit vir elke individu beteken om verantwoordelikheid vir sy eie lewe te neem en ‘n lewe van persoonlike vryheid te kan geniet. Hy moedig mense aan om meer en beter te wees as wat die wereld van hulle verwag. “Glo in mense, dit gee hulle hoop.”

Hy is ‘n sosiale entrepreneur en ‘n vennoot van ‘n gesogte internasionale maatskappy met kantore in bykans 27 lande wereldwyd. “Ons besigheids model is van so ‘n aard dat enige individu met ‘n groot genoeg droom en passie ‘n sukses daarvan kan maak.”

Hy is die Stigter van Hope In ACTion, ‘n nie-winsgewende organisasie wat opvoeding en bemagtiging bied rakende verslawing en die trauma wat daarmee gepaardgaan.

“The greatest gift you can give another is not just to share your riches, but to reveal to him his own”-Benjamin Disraeli

Hykie berg op Sosiale Media

Teken aan en ontvang die My Storie van Hoop e-boek

As jy aanteken ontvang jy 'n gratis kopie van die e-boek van My Storie van Hoop. Ontvang ook ander eposse van tyd tot tyd en bly altyd op hoogte van alles.

Dankie jy het suksesvol aangeteken!